Sunday, September 30, 2012

Improving my French in Paris

And this is where my English for this post ends, sorry to my English and French readers!  I was so tired after my last French class and jotted all my thoughts of this past month down in Afrikaans...
Met my M wat eerskomende Vrydag 'n aanvang neem in Parys, en in Frans aangebied word, het ek gedurende Sept klas gedraf by die Alliance Française in Parys (ongelukkig is daar nie een in Reims nie).  Na 'n aanvanklike evaluering die dag voor ons vertrek na die Franse weskus vir vakansie, het ek op drie tipe kursusse besluit - 'n skryfkursus wat in 'n groep is, 3h per oggend, 2 oggende 'n week, 'n indivuele klas met 'n prof om spesifiek op besigheidsfrans te fokus (1.5h/week) en 'n individuele kursus (1h/week) met 'n prof om my uitspraak te verbeter.  Dit was die aanvanklike plan, hoewel herstelwerk by die Alliance halfpad deur 'n verandering in my skedule, en derhalwe meer druk, veroorsaak het.  En op die ou end 2 weke v 2 dae elk in Parys en 2 weke v 3 dae elk (die indiv kursusse het ek die middae vd skryfklas gedoen).
Die skryfkursus was uitstekend in die sin dat die prof verskillende take met ons gedoen het, elke taak bydraend tot meer selfvertroue en die wete dat mens wel by magte is om iets in Frans te kan skryf.  Die klas het gewissel tussen 8-12 mense v verskillende lande - Nederland, België, Duitsland, Switzerland, Italië, Spanje, Poland, Thailand, China, Australië, Colombië, Brasilië. En die ouderdomsgroep het gewissel v ongeveer 20 tot 60+.  Dit was interessant om aan nuwe mense met verskillende kulture en tale blootgestel te word en ondanks die feit dat meeste v ons waarskynlik beter in Engels met mekaar sou kon kommunikeer, het ons in Frans met mekaar gekommunikeer, almal op 'n redelike goeie vlak v Frans.  Die afgetrede Italianer en ek het 'n lang gesprek met mekaar gehad voor hy uiteindelik gesê het hy kan glad nie in Engels kommunikeer nie. Dis wonderlik om te dink mens kan in 'n derde taal met mense kommunikeer wat jy voorheen nie sou kon doen nie.
Die besigheidsfrans was uitdagend en het my laat voel dat ek 'n tweede brein benodig vir al die nuwe woordeskat.  Die prof en ek het dadelik gekliek. 'n Spontane, energieke vrou 12 jaar jonger as ek.  Haar pa is 'n konsultant aan wynboere in die Loirevallei en laas naweek het ek haar gehelp met die vertaling v 'n Franse kontrak na Engels - en op die ou end 'n lang lys v kortkominge in die Franse kontrak aan haar gestuur, heel trots op myself dat ek al in staat daartoe is om 'n Franse regskontrak te kan analiseer.  Sy was so gaaf om vir my orgidieë te koop om dankie te sê (JL is al moedeloos met my wat heeltyd verniet werk vir almal).
Die uitspraakklas was 'n ander storie....Elke les word opgeneem, sodat jy tuis verder kan oefen en seker kan wees vd uitspraak.  Ek dink die moeilikste v 'n nuwe taal is as jy reeds oor 'n lang tydperk verkeerde gewoontes aangeleer het en dit skielik met die korrektes moet vervang.  Die prof neem jou deur al die klanke v Frans en identifiseer jou swakpunte, waarna jy daarop moet fokus (2-4 klanke per les, baie intensief!)  Sy leer jou om jou mond vir sekere klanke soos Donald Duck te vorm, ander soos Marilyn Monroe, ander soos 'n hart, ander soos 'n vierkant (ja, dis die moeilikste een!). Jy is later so deurmekaar, jy weet nie of jy Donald Duck of Marilyn Monroe moet wees nie.
Toevallig het ek Ernest Hemingway se 'A moveable feast' begin lees ongeveer dieselfde tyd wat ek met die skool begin het.  Die boek handel oor sy memoires v sy verblyf in Parys gedurende die vroeë twintigs en die area wat hy hoofsaaklik beskryf speel af in die area waar die skool geleë is (baie goeie boek, my eerste v hom, maar beslis 'n boek om aan te beveel, ek dink hy was briljant!).  Ondanks my voornemens om vd nou straatjies te gaan verken, die oorspronklike ligging v Shakespreare & Company te gaan opsoek en 'n koffie in sy gewildste kafee naby Montparnasse te gaan drink, het die 3 verskillende kursusse en uitstekend toegeruste mediateek my voltyds besig gehou.  Die area was in sy era die armste buurt in Parys, hoofsaaklik omrede heelwat mense gedurende daardie tydperk vanaf Bretagne (die noordwestelike gedeelte v Frankryk, die neus wat uitsteek) na Parys verhuis het om die armoede v Bretagne te probeer ontsnap.  Die treinstasie waar hul in Parys arriveer het, was Montparnasse en dus het hulle hul in die area gevestig.  Volgens 'n onlangse artikel in 'n Franse tydskrif is hierdie area rondom Jardin de Luxembourg nou die area waar jy die hoogste prys per m2 in Parys betaal!
Nie meer gewoond aan klasdraf nie en suf in die kop het ek na 3h se klas in die oggend verkies om eerder die 'vars' buitelug op te soek as om in die kantien te gaan sit.  Helaas, die onmiddelike omgewing rondom die skool het nie kafeetjies nie en mens moet 'n paar honderd meter stap.
Rue Raspail, die straat waarin die skool geleë is, is 'n breë straat met 'n eiland in die middel, noord v die kruising met Rue de Rennes is hul weeklikse mark en dis ook waar jy die eerste restaurant vind.  Verder noord vind jy modewinkels, interieurwinkels.  Die breë straat met sy bome en elegante, dekoratiewe geboue is 'n plesier om in te wandel.  Vd kafees in die area verplaas jou 'n hele paar jaar terug in die geskiedenis met hul dekoratiewe interieur vanuit 'n vorige era. 
Jy dink jy ken die geboue, dan loop jy een dag aan die ander kant vd straat en sien dekorasies op die geboue aan die oorkant wat jy misgekyk het toe jy reg onder hul verbygeloop het.  Môre wag jy by die rooilig by die voetoorgang en jou oog dwaal opwaarts teen die geboue tot jy die reuse figure vir die eerste maal aan die bokant vd geboue raaksien, die geskulpte balkonne met hul dekoratiewe gietysterrelings.  Dis die vreugde v Parys beleef as 'n 'inwoner' eerder as 'n toeris. 
Rue de Rennes, 'n besige breë straat wat Rue Raspail kruis en na Montparnasse toring lei, met heelwat skoen- en modewinkels is 'n miernes tydens middagetes.  Die mense tou ongeveer 20 meter buite op die sypaadjie v 'n bakker.  Hoe nader jy aan Saint Sulpice beweeg, hoe meer kafees en restaurante.  My gunsteling is Café Metro, reg langs die metro vir Saint Sulpice en ongeveer 100 m vanaf die groot plein met sy reuse fontein voor die kerk.  Dis 'n kafee wat deur 'n derde of vierde generasie bestuur word en jou ook verplaas na 'n vorige era, ondanks die feit dat die platskerm tv bo die deur in stilte die nuus verkondig.
Saint Sulpice het kafee's met hul eie bekoring.  Die tafeltjies is in rye gepak en die styfgepakte stoele in rye agtermekaar kyk almal in die rigting vd sypaadjie. Jy klou jou handsak op jou skoot en weet nie waar om met die res v jou inkopies te gaan nie, mense links, regs, voor, agter, kelners wat hul paaie oopveg om drankies af te lewer en seker te maak dat hul die geld ontvang.  Ondanks die ongerief kan mens die verbygangers bestudeer, die reuse fontein bewonder, die kerk wat 'n paar jaar gelede gerestoureer is.
Ek het soggens die metro geneem tot by Saint Placide, 'n besige kruising waar Rue de Rennes 5 ander strate kruis, met kafee's op die straathoeke.  Die een 'n créperie wat jou 'n uitsig bied op Montparnasse toring.  Die ander met klein ronde tafeltjies, waar kelners dek vir 2, maar 1 plekmatjie reeds die tafel vul, met hul tipiese rottangstoele.  Ondanks die feit dat dit op die sypaadjie ingedruk is en voetgangers reg langs jou verbyskuur en busse en karre langs hul verbydreun, soek mens hierdie buitetafeltjies op om die flou sonnetjie te kan geniet (wat halfpad deur die ete verdwyn en al wat bly is 'n ysige skraal windjie...).
Daar is heelwat skole en universiteite in die omgewing - die Sorbonne, Science Po en andere, wat studente lok v oral oor die wêreld en tesame met die toeriste hoor mens soms meer Engels of ander tale in die strate as Frans.
Die roete vanaf die metro na die skool het my verby 'n blommewinkel gelei waar die vars geur v blomme die oggend gevul het en mens vir 'n oomblik laat vergeet vd stadsgedruis.  Die naam vd blommewinkel is vernoem na 'n bekende park, Monceau, wat jy aan die ander kant vd Seine vind.
Ek moes elke oggend die lyn vanaf Gare de l'Est neem, nr 4 - seker die besigste en goorste lyn vd metro. Dis regtig baie besig. Desondanks het ek spoedig geweet waar die mense verminder en waar hul vermeerder. En middae het ek lyn 12 vanaf metro Rennes geneem tot by Madeleine en vandaar lyn 8 na Opera. Die metro se mosaïekteëls vertel jou of jy in Montparnasse of Montmarte se rigting gaan, in outydse skrif.  Binne 'n oogwink leer mens die metro ken, weet jy waar op die platform om te staan om maklik plek te kry, waar om te staan om nie so baie hoef te loop by jou konneksie nie.  Lyn 12 is onder Rue Raspail en mens voel die metro se gedreun selfs in jou klas op die 4e vloer vd Alliance.
By Opera is daar altyd 'n gedruis.  Sambreelverkopers by die uitgange om voordeel te trek uit die onverwagse reënbui wat uitgesak het (gelukkig is my sambreel deesdae permanent by my), toeriste met tasse, besigheidsmense wat jaag om betyds te wees vir 'n vergadering, bedelaars.  Desondanks bewonder ek steeds die pragtige gebou as ek daar verbystap op pad na JL se kantoor waar ek hom gewoonlik middae kry. Die bedelaar wat permanent op die straathoek sit of lê, sonskyn of reën, irriteer my grensloos.  Ek lag vir die lang tou wat voor die Apple kantore staan in afwagting om die nuwe iphone te koop - om by JL en sy kollegas te hoor dat die tou nog langer was in die oggend en mense blykbaar reeds vanaf middernag begin tou het (en dit was 'n koue nag).  By JL se kantoor stoot mens die swaar reuse houtdeur oop en betree 'n geplaveide binnearea vanwaar jy verskillende geboue kan binnegaan. Hul gebou het nog 'n groot swaar hout- en glasdeur waarna jy met 'n halfmaanwenteltrap, bedek met 'n swaar rooi tapyt, opgaan na die eerste vloer.
Die mense raak meer in Parys, die atmosfeer het verander oor jare, maar die geboue bly pragtig en die breë strate maak v Parys steeds  'n spesiale stad.



No comments:

Post a Comment